Laslappies

Tuesday, October 03, 2006

Kyk...as daar nou iets is wat my kuite laat 10 bar pomp, dan is dit mense met die mentaliteit van grond. Mense wat dink hulle weet alles en is tog net nooit verkeerd nie. Ek is seker dat daar in alle organisasies 'n klomp breinlose liggame rondloop en glo my ek het dit ook weer vandag beleef.

Jy sien hulle op paaie, in die werksplek...net blêrrie orals man. Ek stap nou 'n rukkie terug in 'n plek in (sal nou maar nie sê watter organisasie/besigheid nie) in. Hulle het 'n kragonderbreking, dus alle rekenaars is af. Ek wil net iets algemeens uitvind...iets wat jy nie eers op die verdomde blikbrein kan sien nie. Die persoon aan die anderkant van die toonbank deel my mee dat hy my nie kan help nie want daar is 'n kragonderbreking. Ek sê toe: "Dit is reg ou maat, ek het niks op die rekenaar nodig nie, net advies." Nadat ek my hele storie vir hom ge"spin" het, kyk hy my aan asof ek van 'n vêr, vêr...donners vêr planeet afkom en sê: "Sorry, we have a power failure."

Nou ja, nou verstaan ek dat party organisasies/besighede mense aanstel wat se breins met elektrisiteit werk. Mens is ook nooit te oud om die goed te leer nie, nê?

Of, my persoonlike gunsteling is op die pad. Prentjie die volgende: 2 bane...1 is 'n verpligte draai na links, die ander is vir verkeer wat reguit wil aanry of regs wil draai. Sover ek destyds geleer het toe ek vir my lisensie moes gaan, beteken die pyle op die pad ietsie...dit vertel jou tog 'n ou storietjie van wat jou ou karretjie mos nou moet doen. Daar staan ek in die baan om reguit aan te gaan soos die ou geel pyltjie op die pad my nou wys. Die verkeerslig slaan oor na groen en ek "proceed" vorentoe...reguitaan soos ek mos nou wil. Sal die breinlose vet koei in haar blink nuwe motor wat sy omtrent nie eers kan hanteer nie, mos op haar toeter lê en vir my 'n "family wave" met haar middelvinger gooi terwyl sy met die spoed van fisantstront hier aan my linkerkant verby my snel.

Ek is so uit die veld geslaan en verstaan nie onmiddellik wat de josie ek nou verkeerd gedoen het nie. Gelukkig vir my en ongelukkig vir haar stop ons toe mos by dieselfde ou winkeltjie. Ek stap na haar toe en vra haar wat haar probleem is. Die bek gaan behoorlik oop en toe soos 'n vissie op droë grond. Uiteindelik kry ek toe 'n beurt om te praat toe sy na asem snak en vertel haar toe mooi dat sy bliksems onnosel is. Ek nooi haar toe vriendelik uit om haar vinger in haar gat te druk met die belofte dat indien sy dit nie doen, ek dit vir haar sal doen. Ek gee ook onmiddellik aan haar my oogarts se nommer en stel voor dat sy vir 'n oogtoets gaan aangesien ek voel dat sy dit nodig het. Sy was minder gelukkig met my op daai punt, maar was goed de hel in vir my toe ek verder aanvoer dat sy asseblief na die lisensiekantore moet gaan en haar nagemaakte lisensie asseblief tog maar moet gaan inruil en 'n werklike bestuurstoets moet gaan doen.

Mense...kyk...hierdie breinlose mense is oral om ons en dit is skrikwekkend!! Mens moet net begin oppas as al hierdie breinlose outjies begin saamstaan want ek glo mens moet nie die krag van so 'n groep stupid ouens onderskat nie. Hulle sal jou dalk nog omtoor met onnoselheid!!

3 Comments:

  • At 2:22 AM, Blogger cathrine the gr8 said…

    brillant brilliant en dit kom van Emily ook. ons het so gelag.
    mwah

     
  • At 8:27 AM, Blogger Gremlin said…

    Hahahaha baie goed geskry!
    Ja ons wonderlike "Minions".

     
  • At 11:09 PM, Blogger SaM-GiRL said…

    hahahahahahahahahaha!!!!! wow! BAIE BAIE GOED geskryf, ekt die heeltyd gesit en giggel terwyl ek lees! Baie bly dat jy die damn vrou gaan se het wat sy met haar vingertjie kan doen! good for you!!

     

Post a Comment

<< Home